Adri Breed's published creative writing

Skryfopdrag

          Bankie nommer 10 in die NWU Botaniese tuin

 

Soms is die langste stap in 'n tuin

'n stap wat wel naby is, maar te ver,

want nat oggenddou trek jou broeksoom in

soos bondels klits wat deur jou kousstik ryg

en hoekdorings haak aan jou elmboogmou.  

Vroegmodderklei maak jou skoensole glad

dat jy mooi moet let waarop jy trap

terwyl jy klim teen die mensgemaakte rant

en jy gryp na uitsteektakke van bywortelkruid.

 

Jy kom bo met die verwagting van uitsig as beloning

maar daar is die vullis van die vorige dag se vryers

op die bankie waar jy wil sit. 

En as jy tog sit, sien jy agter jou

'n spoor en dakke en ʼn beton inskuifmuur

en voor jou is kleinbos en ruigte en ʼn tak.

ʼn Uitsig sal jy self moet versin.

 

Jy probeer luister verby die dreun van die trok

op die Carletonvillepad wat jy ook van die rant af kan sien

en die rooi kar op die brug

en die geratel by nuwe groen ingenieursgebou,

 

tót jy dit raakhoor :

uit die ruig kom net betyds

die getortel wat nog die heeltyd daar was.


____________________________________________

’n Pers berg


Wanneer vandag soos ’n pers berg agter my lê,

sal ek al vergeet het dat ek jou nog hier wil hê.

Ek sal nie meer weet waaroor ons nog moes praat,

en ek sal nie meer soek na wat jy agter kon laat.


Daarom sien ek uit na daai gewone dag,

wanneer ek jou nie meer voor die deur verwag.


En wanneer die laatdag in vuurgeel om my heen strek,

sal ek nie meer die hartstog voel wat skemer in my wek.

Die winterwind sal saans al onthou wegwaai,

en jy sal nie meer warrelend al om my bly draai.


Daarom sien ek uit na daai gewone nag,

wanneer ek nie eensaam na jou lê en smag.

Die oggendsang van somervoëls sal my weer bekoor,

omdat ek weer sal luister en dit bo die stilte hoor.

Die somerreën sal nie meer my trane wees,

En ek sal nie meer die lengte van tyd vrees.


Daarom sien ek uit na daai gewone dag

wanneer ek nie meer net hier vir jou wag.



____________________________________________

Sneeu in Afrika


"Krrt-krrek-krrt-krrek" 

raas die pitte om haar enkels 

en die skuipe om haar nek. 

Haar voete trap-trap ritmies 

op die yswit moddergrond. 

Haar swaar boude swaai stadig 

heen en weer rond. 

"As dit pap reën moet jy skep." 

neurie sy in klankige taai. 

"Ja, skep!" skreeu 'n berg-aap 

ver weg in die vaal. 

"Skep, skep, skep, skep ..." 

raas 'n loopvoël en hol in die bos. 

"As dit pap reën moet jy skep." 

beaam sy uit voile bors. 

"Skeeeeeep!" roep die grys voël 

in die soetdoringboom. 

"Sssssskep" sis 'n adder vanuit 'n klip se soom. 

"Ek sal skep!" skrik sy vir hom 

en skep dan haar houers vol 

van alles rondom. 

____________________________________________

Skil 


Om nugter te wees 

is om ‘n pomelo te skil 

om sy wîe te skei, 

om elke garing af te rafel, 

elke wig so huid-uit om te dop, 

dat jy elke sel sap 

alleen 

kan proe. 


____________________________________________

Gestikte stad  | Pretoria


Hierdie stad lê op heuwels 

Gedrapeer soos ‘n vlag of doilie 

Sy snelweë soos linte geryg 

Deur bruinblink sandstene 

Gestrik, gekruis, geknoop 

Karre soos blink, bont krale gesnoer 

In rye en blokke 

Swart, geel, groen, rooi, wit, blou 

Verlepte pers – 

Misgekyk soos ‘n bekende kwilt teen ‘n muur. 

____________________________________________

Gent


In Zonder Haat Straat 

voel ek die dowwe reën op my 

winterwit vel 

en ek kyk op, en soek 

tussen die wolke die Son 

wat warmer skyn 

in Afrika. 


____________________________________________

Berlyn


As Afrikaan loop ek 

deur hierdie moordvaal stad 

en voel snaaks tuis. 


Van een bros grysklipmonument na 'n ander en 

loop ek langs geelkoperplate van die Berliner Mauer

en ek let toevallig op skrapnel 


en dan reis ek met 'n moltrein vanaf die Hauftbahnhof, 

vir 'n film in die Sony Centre. 

Die reuse deursigtige konstruksies, 

die nuwe blou monumente vir 

die geskerwenes. 


En ek wonder 

hoeveel moet nog gebeur voor óns 

ook kan bou met glas. 


____________________________________________

​4 Haikoes 


Herfs 

taai akkerblare 

lê op die pad, en jy sien 

die boom se are 


Winter 

wit warm asem 

wat stomend stroom deur my serp 

word koue wasem 


Lente 

ek pluk vol sakke 

uitspattige pienk bloeisels 

op grysbruin takke 


Somer 

vrugte hang geelbont 

swaar en lomp rond in bome 

en vrot op die grond 


____________________________________________

Die ontmanning van ’n man en van ’n vrou 

Gala avec Cotelettes (1933)  en 

Cenisitas (1927) van Salvador Dali 


I. 

skille 

van ‘n mensekop 

velle 

van ‘n pienk roosknop 

hangend 

soos slappe lint 

haar man 

word voor haar kind 


II. 

in dié land is vir ons bekend 

landskappe van pienkwit velle 

dinge wat geamputeerd hang soos

piele 

hiér koester ons net doodstil wrokke 

in ons slape in die nag 

en in die dag is als weer wel 

asof ons dán iets goeds verwag 


____________________________________________

Potchefstroom


in Molenstraat 

sit duiwe soos meeue 

op dakke en skrop 

en huisies met gewels en stoepe 

staan outyds gestapel 

tussen rankplante en rose, 

en die karre van Tomstraat 

raas stadig en ver 

en studente stry 

by die bure om 'n braaier 

en kinders jaag op fietse 

en honde keffend daarna 

en elke kwartier onthou ek 

dat God se huis in Molenstraat staan.

____________________________________________

Messina


Messina is 'n grys dorp 

waar kremetarte opvallend lomp 

oorgewig, ontaktvol gestapel staan. 

Soggens ruik dit daar na teerpale, gras 

brood en bier, en smiddae net na teer. 

In die strate slenter immigrante 

nêrens om heen te gaan 

hul babas treurig op hul heupe. 

Taxi's en swaarvoertuigtrokke 

raas. Die hel kan so klink. 

Die son van Messina brand warm - 

vrouens in bakkies en karre 

voor die koöperasie 

het sweetdruppels tussen hul borste. 


In Messina sit mense saans 

In groen heininglose erwe 

koedoevleis en braai. 

____________________________________________

Aan ’n jong swerwer

  If you're traveling through the North Country Fair
while the winds hit heavy on the border line,
remember me to the one who lives there,
she once was a true love of mine. – Bob Dylan

Indien jy dalk ooit deur die droë Suidland ry
waar heuwels dofgeel in die horison wei,
en jy ’n jong swerwer langs die pad sou kry,
kyk mooi – hy was dalk ’n liefde van my.
As jy sou gaan as die somerson brand,
in die tyd wat die winter nog elders gaan draal,
kyk asseblief tussen duine en sand
of hy nie dalk nog eensaam daar dwaal.
Let dan tog op of hy praat van die see,
van die vlaktes en berge, en of hy dalk hou
van mense in statte, hul weidings met vee.
Want dít is wat ek van hom onthou.
En ek wonder of – wanneer die dag
hom dwing om te rus voor hy verder kan ry –
daar waar hy skemer se koelte inwag,
hy darem net vlugtig sou dink ook aan my.
So, sou jy dalk ooit deur die droë Suidland ry
waar heuwels dofgeel in die horison wei
en jy die jong swerwer langs die pad sou kry,
onthou hom: hy was eens ’n liefde van my.


____________________________________________

Theatre productions

Public appearances by Adri Breed

US Woordfees 2019: Afrikaans se Afrika-komvandaan

Waar het Afrikaans begin? Wie het eerste Afrikaans gepraat? Hoe het die Khoi en Portugese met mekaar handel gedryf? Watter rol het slawe gespeel in die ontstaan van Afrikaans? Christo van Rensburg se Van Afrikaans gepraat ondersoek hierdie vrae. Van Rensburg is oorlede die aand toe hy aan die bladproewe van hierdie boek gewerk het en daar is by die US Woordfees hulde aan hom gebring deur ’n paneelbespreking oor Afrikaans se Afrika-komvandaan. Op die paneel was Willa Boezak, ’n plaaslike taalaktivis, Theresa Biberauer, ’n taalkundige aan die universiteit van Cambridge en Karin Brynard, wie se misdaadroman Tuisland in die Kalahari afspeel. Adri Breed was die gespreksleier. URL

Aardklop 2019: Is die storie van Afrikaans nog relevant? 

Met Wannie Carstens, Danny Titus en Adri Breed (gespreksleier) Die boek kyk opnuut na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis én veral Afrikaans se Afrika-herkoms. Vanaf die opbouproses sedert die 17de eeu tot amptelike taal-erkenning in 1925, die ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu en die ongelukkige apartheidsverlede en versoeningsprosesse wat hierna nodig was. Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ’n gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans vertel word. Donderdag 26 September, 10:30. URL (Foto: Susan Cilliers)